Nou op DVD

Die Roman

Koop die roman nou aanlyn!
Kies hier

e-Boek

Sagteband

Ek hou van uitdagings – as daar nie een is nie, hoekom weer skryf? Watter sin sou dit hê om net weer te doen waaraan jy gewoond is en ’n kloon van jou vorige boek te skryf? Ek sou verveeld wees en dan noodwendig die leser ook.

Toe Ivan en Donnalee my gevra het om ’n boek na aanleiding van Pad na jou Hart se draaiboek te skep, het ek nie slegs gedink dit is ’n goeie, slim inisiatief om vir ’n verandering ’n film te ‘verboek’ in plaas van dat dit andersom gebeur nie; ek was geïnteresseerd in die uitdaging om nie soos gewoonlik te skryf wat ek wil nie, maar ander mense se idees as inspirasie te gebruik.

Of dit was déél van die uitdaging. Die belangrikste oorweging was dat die boek nooit moes voel na iets wat na aanleiding van ’n draaiboek ontstaan het nie. Jy moes dit as ’n alleenstaande roman kon lees, as ’n volwaardige storie, en klaar.

Die nadele as jy skryfwerk met verfilming vergelyk? Daar is baie, maar ek noem net een: dat ’n rolprent blitsvinnig die regte atmosfeer kan skep met ’n treffende agtergrond, die manier waarop akteurs glimlag of beweeg, knap redigering en die regte soort musiek.

Die grootste voordeel? Dat jy met ’n boek in karakters se koppe kan klim soos ’n fliek nie kan nie.

Nou, hoe dan met Vir Altyd? Want ek het dit alles reeds gedoen. Watter nuwe uitdaging kon dit bied?

Twee, om presies te wees. Om dit weer reg te kry. En om te probeer om dit beter te doen.

Waar ek voor die inhandiging van die eerste manuskrip ’n rowwe snit van Pad na jou Hart kon sien om dit sterker te versoen met wat op die doek sou verskyn, was daar nie hierdie keer so ’n geleentheid nie; die boek moes drukkers toe gaan voordat ’n rowwe snit gereed sou wees.

Nogtans het dié wat die manuskrip gelees het, aanvaar dat ek weer die eerste snit gesien het, dus is ek gerus op daardie front.

Dit het nie sommer alles vanself gekom nie. Ek het ’n smaaklike, ryk storie gehad om mee te werk, vol elemente wat ’n skrywer prikkel en nooi om hulle te verken. Dit was ’n plesierige oefening!

- Francois Bloemhof -