Nou op DVD

Vir Altyd

Hoofstuk 1

Hy ken hierdie deel van die proses al so goed, maar telkens word hy verras. Elke keer kom daar iets na vore waarop hy nie gereken het nie.
Beelde wat eers op film verewig word, dan op papier.
Mense se lewens is elke dag vol indrukke wat so gou verby is as wat hulle kom. Sy taak is om sulke oomblikke vas te vang – nou wel nie almal nie, net party. Rég vas te vang.
Die verskil tussen ’n indruk en ’n foto? Een van hulle hou langer.
Hy het reeds die ontwikkelingstyd vir negentig minute gestel, nou skakel hy die lig aan en word die donkerkamer in ’n dowwe rooi gloed gebaai.
Hy maak sy bondgenoot oop: die Hasselblad-kamera waarop hy altyd kan staatmaak om dit wat sy oog sien getrou te herhaal. Haal met rubberhandskoene versigtig die 35 mm-filmnegatief uit.

In die winkel kom die enigste geluid toe die klokkalender op haar lessenaar van 08:59 na 09:00 oorslaan. Sy kan nie sit en die minute aftel nie. Daar is baie om te doen.
Sy pak kinderboeke eweredig op die lessenaar uit. Sy glimlag toe die groot verloofring aan haar linkerhand ’n oomblik lank die lig vang, dan is daardie hand weer op pad na ’n kartonhouer wat op die vloer staan.
BARGAIN BOKS
Die boks langs dit sê weer JOHANNESBURG en ’n golfie paniek spoel deur haar toe sy dit sien. Hoe gaan sy in Gauteng oorleef? Sy is ’n Bolander!
En alles wat sal moet agterbly? Hierdie ruimte by die Taalmonument waaruit sy ’n boekwinkel opgetower het?
Volksmond, háár winkel. Dag na dag het mense hier ingestap gekom, soveel verskillendes. Gewoonlik is hulle met ’n boek hier uit, iets wat kop en hart kon verryk.
Nou moet dit tóé.
Haastig om haar gemoed reg te ruk gaan sit sy tog maar by die lessenaar en maak haar trouboek oop. Sy doen ’n ding en sy doen dit behoorlik; dit sou enigeen weet wat hierdie produk van soveel maande se navorsing sien. Soveel ure se knip en plak.
Sy blaai na die gedeelte wat aan die trourok gewy is en sit en kyk na dié klassieke, elegante skepping, die mooiste wat sy nog gesien het. Meters en meters se sagte net, Franse handgeborduurde kant, die gestikte peplum van egte organza . . .
Sy het weer kalmte. Natuurlik gaan sy dinge verloor, maar hoe dan anders as jy die perfekte nuwe begin wil maak?
Gáán maak.

Die filmnegatief is in die skandeerder. Helder lig sny deur die rooi skemering soos wat beelde op die fotopapier geprojekteer word.
Hiervoor sal hy nooit moeg word nie: die skeppingsproses.
Hy dink nie hy sou lank in enige ander beroep uitgehou het nie. Te ongeduldig!
Net vir ’n sekonde sien hy homself weer so helder asof hy ’n foto daarvan geneem het: die seuntjie, amper twee dekades jonger, wat nie in die kerk sy sit kan kry nie. Die bank is te hard en sy onrustigheid te groot. Hy wil buite wees saam met sy maatjie.
Sy is ook in die kerk, maar saam met haar pa en ma ’n ent weg, waar die ryk mense sit . . .
Hy voeg ontwikkelingsvloeistof by in die wit plastiekbak, vat die fotopapier versigtig met ’n knyper vas en plaas dit in die oplossing. Druk dit af tot op die bak se bodem.
Sy gedagtes het hulle loop begin neem, maar hy weet hoe onbetroubaar herinneringe is – nié soos foto’s wat altyd vir jou die waarheid teruggee nie.
Hy hoef nie te wonder wie se idee dit was om daardie Sondag uit die kerk pad te gee nie. Hy wou haar altyd op ’n avontuur neem. Hy was voor en sy het gevolg, die krulkopprinses in haar mooi rokkie.

Sy roer water by die poeier voordat sy met die kwas ’n dun groen strepie op die papier trek. Die pienk blom het ’n steeltjie gekry.
Dat sy dit self doen, gaan die eindproduk meer spesiaal maak. En wanneer almal in die onthaalvertrek sit, sal hulle nie weet hierdie naambordjies kom uit haar hande en uit haar hart nie, maar sý sal weet. Al wou haar ma dit eerder van iewers af bestel.
Sy skuif die bril hoër op haar neus.
Die boekwinkel het nog stiller geraak, asof dit reeds begin afskeid neem. Sy weet dis haar eie gevoelens wat sy op die ruimte projekteer. Hier sal ’n ander onderneming op die been gebring word; mense sal hier werk en gesels en heel moontlik ’n sukses daarvan maak. Dis net ’n klomp vierkante meter en sy word nie benodig om dit te vul nie. Die hele kontrei sal voortgaan soos dit nog altyd het. Sy’s vandag so nostalgies!
Dis goed dat niemand inloer nie, want sy is nie lus vir geselsies maak nie.
Sy trek weer die trouboek nader. Toe sy kom by die foto van haar tien jaar oue self in die prinsesrok langs haar tent-kasteeltjie, raak sy sag daaraan. Asof sy vir daardie kind kan sê: Toemaar, hou net uit, eendag is eendag en dan is daar ’n gelukkige einde. Gelukkig, gelukkig, vir ewig en altyd.
Was sy regtig ooit so jonk? ’n Bang kind wat graag in ’n wonderwêreld wou glo en dit op ’n manier nogal dikwels reggekry het. Hoewel nie op haar eie nie.
Sy wil nie in die leeshoekie se rigting kyk nie. Daar staan die lakententjie wat sy nog nie so ver kon kom om plat te slaan nie; die kasteel-verbeeldingsplekkie wat sy vir kinders ingerig het om heen te kan ontsnap.

Sy blaai om na nog ’n foto: ’n seuntjie en dogtertjie langs mekaar.

Beelde. Indrukke. Dis wat die twee van hulle hierso in die kerk skep vir later se onthou, al besef hulle dit nie. Want jy kies nie jou herinneringe nie. Jy onthou wat belangrik was, maar dit weet jy eers dán. ’n Oomblik se kosbaarheid word deur die tyd bekragtig.
Blonde seuntjie wat met sy blou oë vir die blonde dogtertjie met die donker oë beduie hulle moet padgee.
Die dominee vra dan nou dat die gemeente hulle oë in gebed moet sluit. Die grootmense maak so: die ma van die blouoog-stoutgat; die statige ouers van die dogtertjie – sy wat sien hoe heelparty paartjies mekaar se hande vat, maar haar pa en ma nie. Sy het al vir hom gesê sy weet nie hoekom hulle dit nooit doen nie, en hoe hartseer dit haar laat voel.
Die seuntjie sak af en glip onder die rye banke deur, kruip-kruip tot by haar voete. Sy loer en sien haar pa en ma se oë is toe, sak ook af en saam kruip sy en die seuntjie verby swart, blink manskoene, verby fyner skoene aan vrouevoete.
Hulle twee wat in die kloktoring speel. Hulle kon hulle verkyk aan die draaiende meganisme: tyd het tog verbygegaan, al het dit gevoel of dit stilstaan wanneer hulle saam is.
Die kerk was nog nooit so heilig nie, alles so mooi. Tot haar pa hulle uiteindelik daar vind, die ontevredenheid met haar maatjie weer op sy gesig.
Nog ’n oomblik, nog ’n indruk: hulle twee in die voëlhok. Sy hou haar handjies voor haar uitgestrek en die seuntjie gooi saadjies daarin . . . en jou waarlik, die voëltjies fladder, hulle kom nader, hulle eet uit haar hande! Buksie staan buite die hok en blaf, hy hou niks van hierdie gedoente nie, maar die oomblik duur voort. Dis ’n sprokie, sy is in ’n sprokie.
Haar ma is skielik daar om dit stop te sit. Sy skel. Haar ma trek haar vies by die hok uit en gee haar maatjie ’n vreeslike kyk. Haar ma is baie kwaad omdat haar rok so vuil is. Sy het al gesê haar maatjie is ’n slegte invloed.

En byna twee dekades later lig dié slegte invloed die laaste foto uit die laaste bak en hang dit op saam met die ander wat reeds in ’n sirkelformasie begin droog word. En ver, ver daarvandaan haal ’n meisie waterverfskilderye wat sy self gemaak het af van die muur in ’n winkel wat sy nes haar kinderjare moet agterlaat. Karakters uit stories van toeka.
Op een skildery sit Raponsie by haar toringvenster en uitkyk op ’n koue, onregverdige wêreld.

Die seuntjie sluip saggies na die plek waar hy na die venster toe kan opklim.
Dis nie so hoog nie, maar hy verbeel hom altyd dis ’n toring. Hy is al ’n klomp kere daar op, elke keer gaan red hy haar.
Hy weet dis nodig. Sy gaan hartseer wees, want hy hoor hoe skel haar pa en ma weer op mekaar. Hulle is in die kombuis en hy moet altyd hier verby.
Hy skrik – daar is die geluid van iets wat breek. Hulle moet hom net nie sien nie, dan’s daar pêre! Dit sal ’n koppie wees, dink die seuntjie. In ’n kombuis is daar mos altyd koppies. Hy weet die tannie het al ’n koppie stukkend gegooi toe sy kwaad was vir die oom. ’n Glas sal seker anders klink.
Langs hom is Buksie met ’n oop bek, maar dis ’n stil bek. Hy het mooi met Buksie gepraat en gesê nikse geblaffery nou nie.
Dis ’n groot huis. Hy weet hulle is ryk, maar hy het nog altyd gedink ryk mense sal meer . . . ordentlik wees. Hulle sal mooier met mekaar praat. Veral as die oom ’n dokter is, en die tannie voorsitter van die ACVV. Ander mense op die dorp weet nie hoe hulle hier op mekaar skree nie.
Die seuntjie beweeg stil tot by die geut. Klouter daarteen op soos ’n dapper prins nie sou kon nie, en dan is hy by haar kamervenster. Hy sien sy maatjie in haar tent-kasteeltjie sit, haar gesig ernstig soos sy iets lees. Hy kan van hier af sien haar oë is rooi gehuil. Dit sal daardie sprokiesboek wees, sy lees dit altyd as sy hartseer is.
Hy klop en sy glimlag en spring op en gryp haar tassie en die boek. Sy kan self goed klim, al moet sy die boek onder haar arm vasknyp terwyl hy die tassie dra. Sy is soos blits ná hom teen die geut af, dan hardloop hulle onderdeur die wasgoeddraad en tussen die wingerde in, Buksie opgewonde agterna.
Hulle hardloop berg toe en hou nie op voor hulle bo is nie. Niemand anders is hier nie, minste van alles enige grootmense. Hulle kyk af op die Paarl. Daar is soveel huise, en in elke huis bly daar mense. Hier op Paarlrots bak die sonnetjie lekker. Dis soos om op ’n troon te sit en kyk hoe rustig is jou onderdane. Snaaks dat die Rots van ver af so glad lyk, maar as jy naby kom, sien jy hoe grof dit is. Hoe sterk. Die troon sal bly staan.
Hy wens hy het sy kamera by hom gehad sodat hy hierdie wonderlike prentjie kon afneem en dit vir altyd so hou.
Dat die vallei en dorp waar hy grootgeword het altyd so mooi kan lyk soos nou in 1998.
Met ’n klippie kerf hy letters op die Rots uit – ook dít sal bly staan.
H & N
Hy konsentreer, want hy moet dit mooi doen – sy hou daarvan dat dinge mooi en reg is. Hy luister darem ook hoe sy uit die boek vir hom lees van Aspoestertjie, die groot rok, die koets en die prins. Haar stem is vol gevoel, asof alles in die storie met háár gebeur.
Later haal sy toebroodjies uit die tassie en breek soos gewoonlik die korsies af voordat sy dit vir hom gee. Breek dan hare ook af. Hy kou. Lekker. Peanut butter. Sy moes dit vroeër die dag gemaak het, om te kan eet nadat sy ontsnap het. Sy moes geweet het haar pa en ma gaan weer baklei. Volgende is daar vir elkeen ’n botteltjie koeldrank.
Daar sit sy nou weer en speel trou-trou. Hy wonder partykeer hoe sy kan dink aan trou, as haar ouers so ongelukkig is. Seker maar omdat sy weet sy sal dit reg doen. Haar Barbie-pop is die bruid. En die bruidegom?
’n Speelgoed-trol met blou hare.
Hy vat die laaste slukkie koeldrank en wil lag. Arme kinders eendag, met Barbie vir ’n ma en ’n trol vir ’n pa!
Maar hy lag nie.
Al is popspeel nou nie eintlik sy ding nie, vat hy sy strooitjiepapier en vou dit in die vorm van ’n ringetjie. Barbie se hande is glad te klein dat hy dit oor haar ringvinger kan glip, daarom steek hy dit maar aan haar arm.
Getroud!
Die son is weg. Of nee, dit is nie, iets het net voor die son inbeweeg en die skaduwee val oor hulle en word groter soos hy nader marsjeer, woedend: haar pa.
Twee tienjarige kinders se oë rek in vrees.
Tyd en indrukke stap aan totdat dit ’n agttienjarige man is wat in die donkerte by die geut begin opklim. Nou gaan hy vinniger bo wees; hy is soveel langer as destyds.
Moet saggies! Jy kom red nie iemand en laat die hele wêreld daarvan weet nie. Hy is snaarstyf van spanning. Sy is nie meer sy maatjie nie. Nie “die dogtertjie” nie. Sy is die een saam met wie hy die res van sy lewe wil deurbring, dit weet hy nou hier in die jaar 2006.
Soveel dinge is wel nog dieselfde, maar nou gaan dit verander. Nes kleintyd moes hy die erf binnesluip, en net soos die seuntjie van destyds moet hy saggies hier opklim. En weer sien hy haar huil toe hy die kamervenster bereik.
Hy klop en die meisie kom haastig in sy rigting. Toe sy die venster oopmaak, hoor hy haar ouers se stemme van iewers in die huis – nie die woorde nie, maar die toonaard. Altyd daardie mengsel van drif en verontregting.
Sy glimlag en vee haar oë droog. Hulle kyk vir mekaar. Hy wil bars van sy gevoel vir haar, iets wat deur die jare gegroei het tot wat dit vandag is. Hoe fantasties om daardie gevoel ook te vind in hoe sy na hom kyk.
Dit voel of die oomblik vir ewig aanhou.
Hulle wissel ’n paar woorde – dié wat hy kwytraak, is die belangrikstes wat hy al ooit vir iemand gesê het, en dit kom ongedwonge, seker omdat hy hom al so dikwels verbeel het hy sê dit.
Op die onderste verdieping bereik die geveg ’n hoogtepunt. Nina kyk in die deur se rigting en Hugo kan sien hoe sy ’n besluit neem.
Sy loop haastig terug, gryp hier iets, daar iets. Wil na die kas toe beweeg, maar draai terug na Hugo. Jy kan nie met vragte goed by ’n venster uit padgee nie.
Hier is dit, dink hy. Dié keer het hy haar nie net vir ’n rukkie kom haal nie, sy gaan saam met hom weg.
Hy help haar by die venster uit. Dis ’n gesukkel, maar hulle kry dit reg om af te klim. Nina gryp sy hand en hulle begin hardloop na sy motor waar hy onder die bome geparkeer het.
Hulle hoor haar pa se stem, maar nie wat hy skree nie.
Roep hy haar?
Sy steek vas, verskeur.
Maar sy moet wegkom, en Hugo is hier vir haar. Hulle spring in die motor en die enjin, wat eenmaal so onbetroubaar was, vat met die eerste draai van die sleutel.
Hulle trek met ’n vaart weg.
Nou sal alles reg wees.