Nou op DVD

Die Storie Agter die Storie

As skrywers is ons baie lief vir simboliek en met Pad na jou Hart het ons op 'n letterlike en simboliese 'lewensreis' saam met die karakters gegaan. Met Vir Altyd is die aanslag bietjie meer gefokus op 'n 'liefdesavontuur' deur al die ‘seisoene’ van die liefde, waarin ons slegs 'n spieël ophou met die hoop dat kykers en lesers hulself of hulle verhoudings in een van die karakters of in een van die paartjies sal raaksien.

Die karakters is almal gebaseer op mense wat ons ken of al iewers ontmoet of opgemerk het. Telkemale het ons al in 'n restaurant gesit en 'n "Ben en Marietjie" gewaar wat skynbaar na jare se saamwees dit verleer het om met mekaar te kommunikeer, en die hoogtepunt van die gesprek draai oor die special op die spyskaart.

Ons almal, al is dit heimlik, wens dat ons eendag na 50 jaar nog steeds soos 'n "Oom Paul en Tannie Betsie" sal hande vashou en deur dieselfde oë na mekaar sal kyk soos daardie eerste keer, of soos "Dominee Willem en Tannie Ronel" weer 'n tweede kans vir vlinders in die maag sal kry, al is dit byna 'n leeftyd later.

Met Nina en Hugo se karakters het ons besef dat jongmense baie maal meer gefokus is op die 'perfekte dag' eerder as die leeftyd wat daarna volg, en hoe belangrik dit is om daardie leeftyd saam met jou beste vriend aan te pak, want wanneer al die liggies verdof en die lewe se las swaar raak, is daardie vriendskapsfondament dít wat jou deur dit alles staande sal hou.

As skrywers is dit nog altyd vir ons belangrik dat mense saam met ons karakters moet voel, en dat daar iets in hulle harte sal agterbly wat hulle saam met hul sal kan neem.

Dus hoop ons dat mense deur Vir Altyd geïnspireer sal wees om mekaar se ‘liefdestaal’ te leer praat, om te werk aan 'n beste vriendskap, om nooit weer op te hou hande vashou nie en om nie die oomblikke tussendeur mis te kyk nie... die oomblikke waaruit Vir Altyd bestaan.

Soms is dit nie die gelukkige einde wat saak maak nie, maar eerder die avontuur op pad daarheen ...

- Ivan Botha & Donnalee Roberts -