Nou op DVD

Donnalee Roberts

Vervaardiger

Die Suid-Afrikaanse vervaardiger, skrywer en akteur Donnalee Roberts is bekend vir haar rol as Amory in die 2014 loket-trefferrolprent Pad na jou Hart, wat by die 2014 Tempo Toekennings Beste Film van die Jaar gewen het asook Best Feature Film by die Natal Film Commission se Sabela Toekennings. Vir Pad na jou Hart, het Donnalee die Tempo Toekenning vir Beste Aktrise van die Jaar gewen en is genomineer vir ’n 2014 SAFTA vir Aktrise van die Jaar. Sy het ook die skryf, vervaardiging en bemarking van Pad na jou Hart saam met Ivan Botha behartig.

In 2015, vertolk sy die hoofrol as Carina Human in die rolprentverwerking van die bekende televisiereeks Ballade vir ’n Enkeling waarvoor sy die 2015 Tempo Toekenning vir Beste Aktrise van die Jaar ontvang het.

Donnalee is die medeskrywer, medevervaardiger en vertolk die hoofrol in die romantiese avontuurfilm Vir Altyd wat in 2016 uitgereik word.

Sy en Ivan Botha is mede-eienaars van die produksiemaatskappy 17FILMstreet Media wat daarop fokus om kwaliteitprojekte te skep wat die film- en televisie-industrie vorentoe dryf.

17 FILMStreet Media spesialiseer in die ontwikkeling, vervaardiging en bemarking van films en het die bemarkingsveldtog van Ballade vir ’n Enkeling behartig.

Donnalee het ook die rol van Annelie van Heerden in 7de Laan gespeel en het in 2013 die hoofrol as Cybil Ferreira in die film Klein Karoo vertolk.

Sy het haar BA Drama-graad aan die Universiteit van Pretoria ontvang, en het daarna vir twee jaar ’n filmkursus by PALI (Performing Arts and Lifestyle Institute) in Pretoria gedoen. In 2012, het sy by die New York Film Academy studeer waar sy ’n diploma in toneelspel vir film ontvang het.