Nou op DVD

Hugo Bester

Op die ouderdom van 28 is Hugo ’n suksesvolle reisfotograaf wat oor die afgelope 10 jaar byna die hele wêreld verken het.

Deur al die jare herinner baie dinge en plekke hom aan sy kinderlewe en veral aan sy voormalige beste vriendin, Nina. Maar dis seer herinneringe wat deur harde werk en nuwe lande bedek word.

Wanneer Hugo weer op ’n onverwagse avontuur saam Nina gaan, word hy forseer om vrede te maak met die verlede waarvan hy so lank weggehardloop het.

Dit is eers dan dat Hugo besef waar sy toekoms lê.

Ivan Botha

Akteur, skrywer en vervaardiger Ivan Botha is bekend vir sy werk in die lokettreffer-rolprent Pad na jou Hart wat as Beste Rolprent van die Jaar by die Tempo Toekennings aangewys is. Ivan is ook aangewys as Beste Akteur van die Jaar vir sy rol in die film.

Hy en Donnalee Roberts het Pad na jou Hart saam geskryf, vervaardig en bemark.

Ivan is die mede-eienaar van die filmmaatskappy 17 FILMStreet Media, wat daarop fokus om kwaliteitstories te skep wat die film- en televisiebedryf vorentoe dryf.

17 FILMStreet Media spesialiseer in die ontwikkeling, vervaardiging en bemarking van films en het die bemarkingsveldtog van Ballade vir ’n Enkeling behartig.

Saam met Donnalee, is Ivan weer die skrywer en vervaardiger van die jongste romantiese avontuurfilm Vir Altyd en vertolk hy die hoofrol in die rolprent wat op 12 Februarie 2016 uitgereik word.

Ivan het sy Nasionale Diploma in Drama in 2006 aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie ontvang waar hy in Regie en Draaiboekskryf gespesialiseer het.

Van Ivan se ander film-, televisie- en teaterkrediete sluit in 7de Laan, Villa Rosa en Getroud met Rugby, asook Hond se Dinges, Superhelde, Roepman, Verraaiers, BAKGAT 1, 2 en 3 asook Pad na jou Hart.

Ivan het in die teaterproduksies Dis Ek, Anna (2006), Hel op Hemel en Aarde (2011) en Ben Babsie en Familie (2013) opgetree.