Nou op DVD

Marlé Drotsky

Kostuums

Marlé Drotsky (B.Tech: Mode-Ontwerp & Tegnologie) het die plaaslike filmbedryf aan die einde van 2009 betree as kostuum-ontwerper – en teen die begin van 2010 het sy haar eerste vollengte film, Superhelde, saam met The Film Factory voltooi. Sedertien werk Marlé aan periodestukke soos Roepman (waarvoor sy ’n Safta-nominasie ontvang het), Verraaiers, Stuur Groete aan Mannetjies Roux en Free State (2016).

Marlé geniet ook hedendaagse produksies, en het die kostuum-ontwerp vir Ballade vir n Enkeling, Wolwedans in die Skemer en Hoofmeisie behartig. Sy het tot dusver 13 vollengte films, twee televisiereekse asook ’n paar musiekvideos, korporatiewe projekte en ’n Nike-UK advertensie onder haar kreatiewe belt.

Filmmaak is vir Marlé ’n absolute passie waarin sy haarself kan inleef – en haar fokus is om iets nuuts by te dra tot elke projek waaraan sy werk. Haar gunstelingdeel van die filmproses is om ’n storie met fokus aan te pak, te ontleed en saam met die span te werk aan die idees, konsepte, kleurpalette en style. Sodoende dra Marlé by tot die opbou van hierdie aspekte om uiteindelik daarvan ’n visuele fees te maak wat getrou bly aan die storie, karakters en benadering van die regisseur.