Nou op DVD

Nina Lombaard

Nina is op 28-jarige ouderdom die toonbeeld van haar ma en pa se verwagtinge – ’n netjiese, mooi en ordentlike jong dame wat ’n boekwinkel besit in die Paarl, ’n veilige, beskutte dorpie.

Sy is ’n aspirant-sprokiesboekskrywer, wat weer lewe wil blaas in ’n sprokieswêreld waarheen sy as kind dikwels ontsnap het – veral wanneer haar ouers soos klokslag begin baklei het.

Sy is ook op die punt om haar eie sprokie te bewaarheid deur haar troudag wat voorlê. Sy weet Retief is die regte – die veilige en goedgekeurde – keuse vir ’n lewensmaat, maar wanneer hy haar voor die kansel los, spat haar droomdag aan skerwe.

In ’n histeriese en spontane oomblik oortuig sy haar beste vriend uit hul kinderjare, Hugo, om saam met haar op haar en Retief se beplande wittebrood te gaan. Dit is tydens hierdie avontuur dat sy besef dat ’n leeftyd saam met iemand anders oor baie meer as net die perfekte troudag gaan.

Vir Nina word die waarheid van die verlede oopgekrap en slegs sy kan haar toekoms bepaal.

Donnalee Roberts

Die Suid-Afrikaanse vervaardiger, skrywer en akteur Donnalee Roberts is bekend vir haar rol as Amory in die 2014 loket-trefferrolprent Pad na jou Hart, wat by die 2014 Tempo Toekennings Beste Film van die Jaar gewen het asook Best Feature Film by die Natal Film Commission se Sabela Toekennings. Vir Pad na jou Hart, het Donnalee die Tempo Toekenning vir Beste Aktrise van die Jaar gewen en is genomineer vir ’n 2014 SAFTA vir Aktrise van die Jaar. Sy het ook die skryf, vervaardiging en bemarking van Pad na jou Hart saam met Ivan Botha behartig.

In 2015, vertolk sy die hoofrol as Carina Human in die rolprentverwerking van die bekende televisiereeks Ballade vir ’n Enkeling waarvoor sy die 2015 Tempo Toekenning vir Beste Aktrise van die Jaar ontvang het.

Donnalee is die medeskrywer, medevervaardiger en vertolk die hoofrol in die romantiese avontuurfilm Vir Altyd wat in 2016 uitgereik word.

Sy en Ivan Botha is mede-eienaars van die produksiemaatskappy 17FILMstreet Media wat daarop fokus om kwaliteitprojekte te skep wat die film- en televisie-industrie vorentoe dryf.

17 FILMStreet Media spesialiseer in die ontwikkeling, vervaardiging en bemarking van films en het die bemarkingsveldtog van Ballade vir ’n Enkeling behartig.

Donnalee het ook die rol van Annelie van Heerden in 7de Laan gespeel en het in 2013 die hoofrol as Cybil Ferreira in die film Klein Karoo vertolk.

Sy het haar BA Drama-graad aan die Universiteit van Pretoria ontvang, en het daarna vir twee jaar ’n filmkursus by PALI (Performing Arts and Lifestyle Institute) in Pretoria gedoen. In 2012, het sy by die New York Film Academy studeer waar sy ’n diploma in toneelspel vir film ontvang het.