Nou op DVD

Ivan, Donnalee: Nog ’n avontuur

Ivan Botha en Donnalee Roberts se wenresep op die silwerdoek gaan vir ’n tweede keer beproef word wanneer hul jongste romantiese poging, Vir altyd, twee dae voor Valentynsdag in 2016 begin wys.

In 2014 was die twee gelukkig genoeg om hul trefferfliek Pad na jou hart op Valentynsdag te kon uitreik en dit was ’n groot sukses. Dié treffer van ’n romantiese tranetrekker het R11,6 miljoen by die loket verdien – wat geen ander Afrikaanse fliek sedertdien kon ewenaar nie.

Vir altyd trek reeds aandag. Die lokprent het die afgelope week op YouTube verskyn en is reeds sowat 40 000 keer gekyk.

Hulle het nie teruggehou met die produksie van Vir altyd nie. Die helfte is in die Paarl verfilm en die ander helfte op die prentjiemooi strande van Long Beach in Mauritius.

Die fliek vertel die verhaal van ’n meisie (Roberts) wat voor die kansel afgesê word, maar dan steeds besluit om op haar wittebrood te gaan saam met haar kleintyd-boesemvriend (Botha). 

Net soos met Pad na jou hart het dié twee talentvolle akteurs self die draaiboek van Vir altyd geskryf, die fliek vervaardig en die hoofrolle vertolk. En weer skitter die romanse tussen hulle op die silwerdoek soos sterretjies?.?.?.

"Romanse of te not, hulle bly die regte ‘power couple’ van SA flieks "

Dié wat agter bakhande oor die persoonlike lewe van sterre gesels, klets al jare oor Roberts en Botha, wat baie saam gesien word, albei enkellopend is nadat hul vorige verhoudings verbrokkel het, en 17 Filmstreet Media, wat Vir Altyd vervaardig, saam bestuur. 

Selfs toe Roberts vroeër vanjaar in Ballade vir ’n enkeling gespeel het, was Botha (29) met 17 Filmstreet agter die skerms betrokke by die bemarking van dié fliek.

“Ons is beste vriende en ons het ’n onderneming saam,” sê Botha ferm wanneer hy hieroor uitgevra word. “Ons verkies om ons private lewe privaat te hou.”

Intussen spog dié twee ook met ’n nuwe “genre” wat hulle vir hulself kon identifiseer.

“Ons noem Pad na jou hart en Vir altyd eerder romantiese avonture as romantiese komedies,” sê Botha. “Want in elke fliek is daar groot lewenslesse, avonture en uitdagings. Dit is nie flieks wat noodwendig vir jou wil preek nie, maar dit hou wel ’n spieël op na verhoudings. 

“Ek dink tog ook albei flieks is uniek en baie uiteenlopend. Vir altyd gaan vir jou verskillende seisoene van die liefde wys, terwyl Pad na jou hart meer van ’n lewensreis was.”

“As mense romantiese stories sien, dink hulle dadelik jy moet sê dit is ’n romantiese komedie,” sê Roberts (31). “Maar ek kan jou verseker, jy gaan lag, jy gaan huil, en soms al twee gelyk.” 

Lees die artikel op Netwerk24 se webwerf