Nou op DVD

'Vir altyd': Liefdesverhaal knap verwerk

Ivan Botha en Donnalee Roberts is onder meer bekend as akteurs, maar is ook bekwame draaiboekskrywers. Hul lokettreffer Pad na jou hart is in 2013 uitgereik en deur François Bloemhof tot roman omskep.

Dié liefdesverhaal het talle lesers gaande gehad.

Botha en Roberts se jongste draaiboek, Vir altyd, het pas as roman verskyn en is weer deur Bloemhof se bekwame skrywershand omgeskakel.

Die roman dien, soos sy voorganger, as lusmaker vir die gelyknamige fliek, wat in Februarie 2016 verskyn.

Liefdesverhale is met tye geneig om voorspelbaar en deurspek van die clichés te wees. Bloemhof het egter ’n eenvoudige liefdesverhaal geskryf wat alle vooroordele ten opsigte van liefdesverhale oorskadu.

Die roman handel oor Hugo en Nina wat sedert hul kinderdae beste vriende was.

Soos die noodlot bepaal, kry hul vriendskap met talle uitdagings te doen en skei hul paaie. Hulle ontmoet dan eers weer jare later.

Nadat Nina se verloofde haar voor die kansel gelos het, tuimel haar sprokieswêreld ineen en beland sy en haar eertydse jeugvriend saam op Mauritius.

Bloemhof se amper poëtiese beskrywing van die
eilandparadys dra by tot die roman se romantiese atmosfeer en neem die leser op ’n avontuur wat soos ’n sprokiesverhaal lees.

Hugo en Nina ontmoet twee uiteenlopende paartjies tydens hul verblyf op die eiland. Met verloop van tyd word Ben en Marietjie sowel as Paul en Betsie se lewe onder ’n vergrootglas geplaas en word die leser meegevoer deur die onpretensieuse wyse waarop albei paartjies se verhoudings uitgebeeld word.

Hierdie liefdesroman fokus nie slegs op die romantiese aspek van verhoudings nie, maar bied ’n opregte uitbeelding van die uitdagings wat talle verhoudings daagliks mee te doen het.

Paul en Betsie se lewensverhaal laat die leser met ’n gevoel van patos, maar word mettertyd ’n storie van hoop, terwyl Ben en Marietjie weer eens bewys dat deursettingsvermoë en ware liefde altyd seëvier.

Vanselfsprekend fokus die narratief hoofsaaklik op Hugo en Nina se verhaal, wat vir lekker spanning en opwinding in die eilandparadys sorg. Net soos in Pad na jou hart, slaag Bloemhof daarin om die slot so onvoorspelbaar as moontlik te laat, wat die leser tot en met die laaste sin boei.

Vir altyd is ongetwyfeld een van die mees opwindende liefdesromans wat ek in ’n wyle gelees het.

Hierdie is die ideale roman vir die Desembervakansie en sal soos met sy voorganger diep in die harte van lesers kruip.

Dewald Koen is departementshoof van Afrikaans aan Kingswood College in Grahamstad.

Lees die artikel op Netwerk24 se webwerf