Nou op DVD

Oom Paul van Zyl

Oom Paul is ’n afgetrede man met baie jare se lewenservaring en die wysheid wat daarmee gepaard gaan. Hy is ’n stil man met ’n liefde vir blokkiesraaisels en ’n groter liefde vir sy vrou, Betsie.

Hulle is op Mauritius om hul goue bruilof te vier. Vyftig jaar nadat hulle destyds in die hof trou gesweer het, is dit hul eerste wittebrood.

Hy en tannie Betsie het deur al die storms van die lewe nooit ophou hande vashou nie en is steeds beste vriende.

Betsie het altyd die antwoord op alles, selfs sy blokkiesraaisels, maar nou, in die laaste seisoen van hul lewe saam kan sy nie vir hom verduidelik hoe om eendag sonder haar te leef nie.

Wilson Dunster

Wilson Dunster het Drama aan die Universiteit van Kaapstad studeer en het ’n nagraadse kursus by die London Academy of Music and Dramatic Art voltooi.

Hy is ’n bekroonde akteur met onvergeetlike rolle in produksies soos Konings en Torings, Two Weeks In Paradise, Onder Engele, Egoli en Isidingo.

Hy het onlangs in die kykNET-reeks Vlug na Egipte asook die opvolg Terug na Egipte verskyn.

In die laat 70’s het hy saam met Athol Fugard gewerk aan Orestes, Dimetos – wat by die Edinburgh Main Festival gepremiere het – en Statements After an Arrest Under the Immorality Act by die Royal Court Theatre in Londen waarna hy saam met Yvonne Bryceland en Ben Kingsley in Europa met dié stuk getoer het.

Saam met Barney Simon het hy aan verhoogstukke soos Mother Courage, People are Living There, Cat on a Hot Tin Roof en Still Life gewerk.

Behalwe vir hul ander optredes saam, het Wilson en sy eggenoot Elize in 2014 opgetree in die verhoogstuk die-hoe-se-wat-se-wie-nou-weer? Hierdie jaar het hul aanhou kragte saamspan vir Saartjie Botha se verhoogstuk Die Wagkamer.