Nou op DVD

Ronel Bester

Ronel staan bekend as die beste bakster in die Paarl en sy is veral bekend vir haar heerlike koeksisters en beskuit. Haar mees gereelde besoeker is dominee Willem, wat die laaste tyd nie sy bestelling kan kom afhaal sonder om’n koppie tee of twee te geniet nie.

Sy het Hugo as ’n enkelma grootgemaak en koester die wonderlike verhouding wat sy met haar seun kon hê deur al sy grootwordjare. Ronel is ’n eenvoudige, sagte en liefdevolle ma.

Hugo en Nina se avonture het hulle gereeld in die moeilikheid laat beland en keer op keer moes Ronel by Nina se statige ouers gaan skerm vir haar seun.

Hugo is al 10 jaar weg uit die Paarl, maar gelukkig kan sy hom ‘volg’ op sy reise en op hoogte bly van sy lewe deur sy foto’s wat in al wat ’n reistydskrif gepubliseer word.

 

Hélène Truter

Hélène Truter het byna 30 jaar ondervinding in die teater-, film-, en televisie-industrie en is veral bekend as akteur vir haar rol as Tannie Poppie in Vetkoepaleis waarvoor sy twee keer vir ’n Avanti Toekenning genomineer is.

Sy het ook in die televisiedramas Amalia I en II, Binnelanders en Home Affairs verskyn en in 2014 was sy weer te sien op televisie in Pandjieswinkel Stories, Swartwater en Jou Show met Emo.

Onlangse filmkrediete sluit in Klein Karoo, Pad na jou hart, ’n Paw-Paw vir my Darling, Die Pro en Vir Altyd.

Vanaf die vroeë 1990’s skryf Hélène tekste vir Egoli (300) en Generations (180). Sy was die ontwikkelaar en medeskrywer van Hart van Staal, ’n dramareeks wat uit 39 episodes bestaan het.

Hélène en Henriëtta Greyffenberg was deel van die oorspronklike kreatiewe span vir Erfsondes en in 2014 het sy die leisels as hoofskrywer by Binnelanders oorgeneem, waar sy tot 2011 deel van die regisseurspan was.

Sy werk tans aan die volgende reeks van Swartwater.