Nou op DVD

Sinopsis

1 bladsy sinopsis:

Vir Altyd ... in ’n oomblik.

Tussen sprokies en Hugo se avonture, kon Nina tydens haar grootwordjare ontsnap van haar hartseer weens die voortdurende konflik tussen haar ouers agter toe deure. Nina en Hugo het van saam grootgeword in die wingerde van die Paarl en was altyd onafskeidbaar.

Op 18 wil Hugo niks anders doen as om Nina te red nie – soos hy altyd gedoen het toe hulle klein was, en gevolglik oorreed hy haar om saam met hom te weg te hardloop. Na ’n skokkende gebeurtenis word Hugo finaal as die moeilikheidmaker beskou wat hy altyd was (volgens Nina se ouers) en dit forseer die twee vriende om paaie te skei.

Op 28 is Nina en Hugo se vriendskap slegs ’n vae herinnering, totdat Hugo op die vooraand van Nina se troue in die Paarl opdaag – onbewus daarvan dat sy in die huwelik gaan tree.

Hy en Nina sien mekaar na byna ’n dekade weer vir die eerste keer by die skemerkelkie-aand voor haar troudag. Hugo word onverwags deel van sy vriendin se grootste sprokie waaroor sy al van kindsbeen af droom.

Op haar troudag verloop alles perfek, nes Nina dit al vir jare beplan het. Maar haar mooiste oomblik verander egter in ’n verwoestende nagmerrie toe Retief (Nina se aanstaande) haar alleen en verneder voor die kansel laat. Nina stort saam met al haar drome ineen; en skok en teleurstelling ontneem Nina van nugter denke.

Nina besluit dat sy 'n troue gereël het en dat sy 'n troue gáán hê, met of sonder haar bruidegom. Na baie sjampanje en ’n lang aand van groot partytjie-hou, word ’n verwarde en brose Nina en Hugo, steeds in hulle trouklere, langs mekaar op ’n vliegtuig wakker na die loods se aankondiging dat hul in Mauritius, die eiland van liefde, gaan land.

Dit is hier waar hulle twee ander paartjies ontmoet wie se parallelle lewensreise hul baie meer van die liefde en verhoudings leer as wat hulle ooit verwag het.

Ben en Marietjie Botha is op Mauritius op hul tweede wittebrood in ’n poging om hulle huwelik te red en mekaar se liefdestaal te leer praat. Ongelukkig voel Ben dat Marietjie reeds te veel praat en nie nog ’n taal hoef aan te leer nie.

Oom Paul en Tannie Betsie van Zyl het 50 jaar gelede in die hof getrou en is uiteindelik op hulle eerste wittebrood om hulle goue bruilof te vier.

Ten spyte van die prag-eiland en vakansie-atmosfeer, is dit eers ná teer oomblikke, waartydens Nina worstel met herinneringe aan haar troudag, wat Hugo daarin slaag om haar uit haar donker bui te bevry.

Soos die drie paartjies, die Bothas, Van Zyls en Retiefs (wie Nina en Hugo noodgedwonge moet voorgee om te wees) tyd saam spandeer, word Oom Paul en Tannie Betsie ’n inspirasie vir almal as gevolg van hul besondere mooi verhouding, innige vriendskap en die feit dat hulle nog steeds na al die seisoene van hulle lewens steeds hande vashou.

Ben en Marietjie, wat aanvanklik heeltyd op mekaar se tone trap, begin uiteindelik foutloos dans wanneer Ben besef hoe belangrik dit is om leiding in sy huwelik te neem – en albei leer die waarde daarvan om jou maat se liefdestaal te praat.

Niks kon Hugo en Nina voorberei vir die avontuur wat voorlê nie, en terwyl hul forseer word om die beste van hulle “wittebrood” te maak, ontdek hulle meer as net wit strande en watervalle.

Die seer van die verlede word oopgekrap tot die versteekte waarheid nie meer wegkruipplek het nie en hul eertydse liefde nie meer ontken kan word nie.

Die werklikheid daag egter ontydig op en dreig om Hugo en Nina se fantasie te verwoes.

Weer staan Hugo voor ’n gebroke Nina en voor sy grootste vrees – hy bring nog altyd moeilikheid oor haar pad, net soos in hulle jong dae ...

Slegs Nina kan haar toekoms bepaal. Gaan sy betyds besef dat dit nie die gelukkige einde is wat saak maak nie, maar eerder die avontuur daarheen?

Terug in die Paarl staar die werklikheid Nina vierkantig in die oë, en net sy kan haar toekoms bepaal.

“VIR ALTYD is die grootse avontuur van die jaar – In teaters op 12 Februarie 2016.”

 

Kort sinopsis:

Vir Altyd ... in ’n oomblik.

Tydens beste vriende Nina en Hugo se grootwordjare, was daar nooit ’n tekort aan avonture nie, maar nou is daar net pynlike herinneringe oor.

Op die ouderdom van 28 keer Hugo (Ivan Botha), ’n suksesvolle reisfotograaf vir die eerste keer na 10 jaar terug na sy ouerhuis in die Paarl – onbewus dat dit die vooraand is van Nina (Donnalee Roberts) – ’n aspirant-sprokiesboekskrywer en eienaar van ’n karaktervolle boekwinkel – se feëverhaaltroudag.

Onverwags word Hugo deel van Nina se groot dag. Dit is hier waar hulle lewens wéér in ’n oogwink verander. Nina se mooiste oomblik verander ’n verwoestende storm wanneer Retief, haar aanstaande nie trou aan haar kan beloof nie en haar alleen en verneder voor die kansel laat. Die histeriese Nina het ’n spogtroue gereël en dring daarop aan om voort te gaan daarmee, met of sonder haar bruidegom. Na baie sjampanje en ’n lang aand van groot partytjie, skrik Nina en Hugo in ’n vliegtuig wakker terwyl die loods se stem hulle op Mauritius, die tropiese eiland van liefde, verwelkom.

Hier ontmoet hul twee getroude paartjies, naamlik die Bothas wat op ’n tweede wittebrood is om hul huwelik te probeer red, en die Van Zyls, op ’n vakansieviering van hul goue huweliksherdenking. Niks kon Hugo en Nina voorberei vir die avontuur wat sou voorlê nie, en soos hul geforseer word om die beste van hulle “wittebrood” te maak, ontdek hulle meer as net wit strande en watervalle. Die seer van die verlede word oopgekrap tot die versteekde waarheid nie meer wegkruipplek het nie en die ou liefde nie meer ontken kan word nie. Die werklikheid daag egter ontydig op en dreig om Hugo en Nina se fantasie te verwoes.

Slegs Nina kan haar toekoms bepaal. Gaan sy betyds besef dat dit nie die gelukkige einde is wat saak maak nie, maar eerder die avontuur daarheen?

“VIR ALTYD is die grootse avontuur van die jaar – In teaters op 12 Februarie 2016.”

 

VIR ALTYD in 'n sin:

Dit gaan nie oor die gelukkige einde nie – dis die avontuur daarheen wat saak maak.

 

Loklyn:

Vir altyd ... in ’n oomblik