Nou op DVD

Tannie Betsie van Zyl

Tannie Betsie is ’n liefdevolle, positiewe, passievolle vrou wat deur die 67 jaar van haar lewe die beste probeer maak van elke situasie. Sy en haar man het destyds in die hof getrou omdat hulle nie ’n troue kon bekostig nie.

Sy is vandag nog net so verlief op haar man soos toe sy hom die eerste keer ontmoet het, en sal enige dag weer in die hof met hom trou.

Nou, ná 50 jaar, is hulle uiteindelik op hulle eerste wittebrood. Hul is saam deur al die lewe se ergste storms: die dood van hul enigste kind en tannie Betsie se stryd met kanker.

Om hierdie rede het sy ’n onblusbare liefde vir haar man, wat nog nooit opgehou het om haar hand vas te hou nie.

 

Elize Cawood

Elize Cawood het Drama aan die Universiteit van die Vrystaat voltooi en het haar professionele loopbaan in 1974 afgeskop.

In 1979, ná haar aankoms in Johannesburg, het Elize opgetree in verskeie televisiereekse wat gelei het tot ’n rol in Manie van Rensburg se Verspeelde Lente.

Opvoerings soos SchreinerA One Woman Play en Road to Mecca het vir haar roem besorg en ander hoogtepunte op die verhoog sluit in Chekovs The Cherry Orchard, Three Sisters, Ibsen se A Doll’s House en ’n Afrikaanse verwerking van Tennessee Williams se A Streetcar Named Desire.

Vanaf Afrikaanse kunstefeeste se ontstaan, het Elize opgetree in solo-vertonings en haar eie kabarette Ek is Hier!, Girly se Konstitusie-Kwellings en Briewe aan ’n Rooidak. Ander produksies by kuntefeeste sluit in Ons Spore Loop Ver, In Taal GeTaToeër, 'n Mond Vol Vuur en Elize en Laurika Maak Nuus.

Met Art of Charf (Lady Lonely Hearts) het Elize en haar man Wilson Dunster die land deurgetoer. Die paartjie voer nou al byna vyf jaar die Dinner for One op – en het ’n tweede weergawe bygevoeg, naamlik Dinner for One Too.

Film- en televisiehoogtepunte sluit in Verspeelde Lente, Taxi to Soweto, Die Seemeeu, Konings en Torings, Onder Draai die Duiwel Rrond, Andries Plak, Liefling, die Movie en Isidingo.

Meer onlangs was sy op die kassie te sien in Pandjieswinkel Stories en Binnelanders.

Sy het die hoofrol in Katinka Heyns se Die Wonderwerker vertolk waarvoor sy in 2012 die Beste Aktrise Toekenning by die kykNET Silwerskermfees ontvang het.